Grammofoonplaat

Die groewe van 'n vinielplaat onder die miskrokoop

'n Grammofoonplaat is 'n skyf waarop 'n geluidspoor volgens 'n beginsel wat in die tagtigerjare van die 19e eeu deur Emile Berliner ontwikkel is, vasgelê word. Na die Eerste Wêreldoorlog het die grammofoonplaat al hoe gewilder geraak omdat die gehalte deur die gebruik van elektroniese toestelle verbeter is.

Na die Tweede Wêreldoorlog het dieselfde gebeur toe skellakplate wat teen 78 omwentelinge per minuut draai, deur vinielplate wat teen 33 ⅓ en 45 omwentelinge per minuut draai, vervang is. Teen die einde van die vyftigerjare het die stereofoniese plaat in swang gekom. Kwadrofoniese opnames, wat in die 1970's hul verskyning gemaak het, het weens tegniese kwessies, mededingende formate en betreklik hoë pryse vir die benodigde hoëtrou-uitrusting nie groot aanklank in die hoofstroommark gevind nie.

Intussen is die vinielplaat as gevolg van digitalisering deur ander stoormedia soos die laserskyf verdring, maar bly steeds gewild as nisproduk.


Developed by StudentB